WELLINGTON – Nóg twee veediewe is Sondagaand (26 Oktober) deur wagte van Bolkvest, ‘n sekuriteitsmaatskappy in Wellington, vasgetrek en deur die Wellington-polisie in hegtenis geneem.
Dit kom nadat twee veediewe reeds vroeg Saterdagoggend (25 Oktober) ongeveer 01:30 op ‘n plaas naby Hermon vasgetrek is, soos vroeër deur Paarl Post berig.
Die veiligheidsmaatskappy se wagte het Sondagaand (26 Oktober) omstreeks 22:00 nóg twee op ‘n plaas in die Agter-Groenberg-omgewing in hul spore gestuit.
Eben Saunderson, die eienaar van Bolkvest Sekuriteit, het vroeër aan Paarl Post verduidelik die maatskappy doen onder andere plaasbeveiliging. Volgens hom gaan plase in die Wellington-omgewing al ‘n geruime tyd gebuk onder veediewe wat skape en beeste teiken, asook kabeldiefstal.
Volgens Saunderson kon Bolkvest Saterdagoggend egter nie al die verdagtes vastrek nie en twee of drie het weggekom.
Dié inhegtenisnemings volg nadat die maatskappy se wagte, wat hy sy “intellegensiediens” noem, op die onderskeie plase gepatrolleer het.
Een vermeende kabeldief is ook Saterdagaand deur Bolkvest in ‘n pomphuis op ‘n plaas langs die Malanstasie-pad vasgetrek.
Volgens Saunderson is die Wellington-polisie in elke voorval kort nadat Bolkvest die verdagtes vasgetrek het, ontbied.
Bolkvest bedien die gebied tussen Wellington en Hermon en het opgelet dat veediefstal in dié gebied aan die toeneem is en die vee wat gesteel is, blykbaar vir “ruilhandel” vir dwelms gebruik word.
“Die afgelope maand het hulle (veediewe) seker sowat 40 tot 50 skape en ses beeste gesteel. Dit is in die Wellington- en Hermon-omgewing. Ons is ernstig besig om die veediefstal te probeer hokslaan en het ernstige optredes asook patrollies in die veld. Ons gebruik ook voetspanne. Ons het dit nou reggekry om twee van die vermeende veediewe vas te trek, maar daar is nog ‘n hele groep veediewe,” het Saunderson ook in ‘n vorige gesprek aan die koerant gesê.
Hy het beklemtoon dat misdaadbekamping – veral met betrekking tot vee- en kabeldiefstal, waaraan die plaasgemeenskappe in Wellington en Hermon tans swaar dra – ‘n “gemeenskapsprojek” moet wees. Hy het benadruk die gemeenskap moet saamwerk om hierdie probleem doeltreffend die hoof te bied.
Kol. Johan Barkhuizen, stasiebevelvoerder van die Wellington-polisie, het die twee insidente rakende die veediewe bevestig.
Volgens hom het die Wellington-polisie twee veediefstal dossiere geopen wat ondersoek word deur die veediefstal-eenheid.
Paarl Post se navraag oor die vermeende kabeldief bly onbeantwoord.
Vir meer inligting oor die nuusberig: Paarl Post