Twee vermeende veediewe, wat glo daarop uit was om skape op ‘n plaas sowat 10 km buite Wellington te steel, is in die vroeë oggendure van Saterdag (25 Oktober) in hul spore gestuit.
Die twee mans is omstreeks 01:30 deur sekuriteitsbeamptes van Bolkvest Sekuriteit wat besig was om die gebied te patrolleer, aangekeer.
Volgens Eben Saunderson, van Bolkvest Sekuriteit, doen hul maatskappy veral ook plaasbeveiliging. Hy sê plase in die Wellington-omgewing gaan vir ‘n geruime tyd onder veediewe wat skape en beeste teiken gebuk.
“In die afgelope maand het hulle (veediewe) seker sowat 40 tot 50 skape en sowat 6 beeste gesteel. Dit is in die Wellington- en Hermon-omgewing. Ons is ernstig besig om die veediefstal te probeer hokslaan en ons het ernstige operasies, asook patrollies in die veld, en ons het ook voetspanne. Ons kon dit nou reg kry om twee van die vermeende veediewe vas te trek, maar daar is nog ‘n hele groep veediewe daarbuite,” sê Saunderson.
Kort nadat sekuriteitsbeamptes die twee verdagtes vasgetrek het, is die Wellington-polisie ontbied. Die manne is in hegtenis geneem en na die Wellington-polisiekantoor geneem.
“So, ons fight is nou nog nie oor nie – ons gaan nog moet aangaan. Ons kon darem twee van die gesoute manne tydens een van ons patrollies vastrek. Ons is dankbaar en hulle is tans in die polisieselle [op Wellington]. Die veediefstaleenheid van die polisie neem die ondersoek oor. Hopelik sal die twee verdagtes gevonnis word.”
Saunderson doen ‘n beroep op inwoners, wat inligting het rondom veediewe, om na vore te kom.
“Veediefstal maak die boere seer. Dan sit ons ook nie net met veediefstal nie, maar ook kabeldiefstal soos koperdrade wat gesteel word. Daar is ‘n beraamde R50 miljoen se skade wat in die afgelope ses maande op plase [in die gebied] aangerig is. As enigeen met inligting navore kan kom om dit te help bekamp, en help dat ons die vermeende diewe agter trallies kan kry, moet asseblief nie skroom om te bel nie. Ons is desperaat om die diewe te vang.”
Paarl Post het uitgereik na die Wellington-polisie sonder enige sukses. Terugvoering sal bygevoeg word sodra dit ontvang word.
Vir meer inligting oor die nuusberig: Paarl Post