Kabeldiewe laat Wellington-boere in die donker
Jana Scheepers | 7 Nov 2025

Boere in Wellington worstel steeds met langdurige kragonderbrekings nadat herhaalde kabeldiefstal die area getref het. Eskom het in ‘n verklaring verseker dat die probleem dringende aandag geniet en dat addisionele hulpbronne ontplooi is om die herstelwerk te versnel. Die geskatte tyd vir volledige herstel is nog nie bekend nie.

Dié publikasie het reeds verlede maand berig oor twee kabeldiewe en vier veediewe wat deur Bolkvest Sekuriteit vasgetrek en aan die Wellington-polisie oorhandig is.

Eben Saunderson, eienaar van Bolkvest Sekuriteit, het tydens ‘n vorige geleentheid gesê dat sy maatskappy onder meer plaasbeveiliging in die omgewing behartig. Hy sê plase in Wellington gaan al ‘n geruime tyd gebuk onder veediefstal en kabeldiefstal, met misdadigers wat veral skape, beeste en koperkabels teiken.

Nóg ’n vermeende kabeldief is in die vroeë oggendure van 7 November in Bovlei deur dieselfde sekerheidsmaatskappy in hegtenis geneem en aan die polisie oorhandig, het Stephan Landsberg, VF Plus-raadslid in Wellington, bevestig.

Volgens Landsberg word gebiede soos Agter-Groenberg, die Perdeskoen, Bovlei, Diemersfontein en dele van Hermon tans geteiken.

Koperdrade word glo die meeste gesteel en plase se pomphuise loop ook dikwels deur, het hy verduidelik.

Landsberg het die goeie samewerking tussen die Wellington-polisie en plaaslike sekuriteitsdienste geloof en gesê dat die meeste gebiede se krag reeds herstel is, behalwe vir sekere dele van Bovlei.

Paarl Post het die Wellington-polisie vir kommentaar genader oor hoeveel vermeende kabeldiewe in Oktober en November gearresteer is en in watter gebiede misdadigers tans toeslaan. Hulle terugvoer sal bygevoeg word sodra dit ontvang is.

Kliënte kan Eskom via die volgende kanale kontak:

  • Laai die selfhelp MyEskom Customer-app af;
  • Gebruik die Alfred-kletsbot-skakel; of
  • Skakel Eskom se kontaksentrum by 08600 37566

Vir meer inligting oor die nuusberigPaarl Post


Bolkvest Will Not Tolerate Slander, Threats, or Unlawful Behavior